Vleissentraal Geskiedenis

Vleissentraal is in 1932 as koöperasie gestig te Prieska, in die Noord-Kaap, onder die naam Kaap Centraal Vleis Produceerders Koöperatief Maatskappy Beperk (KCV). 

In Augustus 1943 is die naam na die Suid-Afrikaanse Vleisprodusente (Sentraal Koöperatief) Beperk, algemeen bekend as die Sentrale, verander en in Julie 1973 het die maatskappy Vleissentraal Koöperatief Beperk geword.

In 1964 het die Koöperasie besluit om vertikaal in die voorsieningsketting te integreer deur beleggings te maak in industriële filiale wat voerkrale en groot- en kleinhandel in vleis- en leerverwerking bedryf. Bekende handelsmerke soos SAMS, Bullbrand, Kovisco, Spekenam, Supreme, Velskin, Country Bird, King Tanning en G H Hackmann het hieronder getel.

In 1992 is die industriële filiale saamgevoeg in Vleissentraal Industrië (Eiendoms) Beperk en die bemarkingsagentskappe in Vleissentraal Koöperatief Beperk.

Vleissentraal Industrië (Eiendoms) Beperk is in 1994 as Kolosus op die JSE genoteer. Die oorblywende belang na notering is in 1997 verkoop. Dit het daartoe gelei dat Vleissentraal Koöperatief Beperk weer primêr net ‘n bemarkingsagent geword het.

In 1996 is Vleissentraal Koöperatief Beperk omskep in ‘n publieke maatskappy, naamlik Vleissentraal Beperk wat nie genoteer is nie, maar waarvan sy aandele vrylik mag verhandel.

Op 30 Maart 2007 het Vleissentraal Beperk sy beherende belange in die lewendehawe bedryfsfiliale aan Vleissentraal (Eiendoms) Beperk verkoop wat vanaf 1 April 2007 die lewendehawe bedryfsfiliale beheer. Vleissentraal Beperk het ook op 1 April 2007 sy beherende belang in Vleissentraal (Eiendoms) Beperk aan Subtropico verkoop.

Laas opgedateer: 2008-05-02